Ons kan uiteindelik die Grootste Afrikaanse Grap aankondig.

En eerder as om tyd te mors met ellelange toesprake, emosionele sterre wat hulle ouers en Chris-en-Penny-van-vêr-af bedank, video-insetsels van beoordelaars en borge, ʼn seremoniemonster wat ʼn rits flou grappe vertel, en pannekoeke en basaarkerrie in die sysaal, gaan ons nou (amper) onmiddellik die wenners aankondig! #ltl

Die Grootste Afrikaanse Grap is nie sommer 'n hierjy prestasie nie, hoor!

Ons lesers het meer as 600 grappe ingestuur, en daar is meer as 20 000 keer gestem om die uiteindelike wenner te bepaal! Die draer van die kroon kan dit met trots doen, en met reg tong uitsteek vir die ... uhm ... minder snaakse grappe.

Ingeskryf deur: Biela Liebenberg van Noordwes

Ou Jan se hond is dood en hy gaan na die kerkkantoor om vir die dominee te vra of hy sy geliefde hond se begrafnis uit die kerk kan hou.

Die dominee sê vir hom: “Nee broer Jan, die reëls en regulasies van die kerk bepaal dat ons nie diere uit die kerk uit kan begrawe nie.”

Jan sê: “Dit is nou regtig jammer, ek was bereid om om R100 000 te spandeer op die begrafnis.”

Dominee: “Nee wag broer Jan, jy het nooit aan my genoem dat hierdie ʼn NG-hondjie was nie!”

Biela Liebenberg het heel eerste die wengrap ingedien en wen ʼn luukse-vakansie van sewe nagte vir twee persone wat ʼn Deluxe-kamer deel by die 5-ster Sugar Beach Resort in Mauritius, ter waarde van R70 000 (retoervlugte en ontbyt en aandete ingesluit met die komplimente van World Leisure Holidays).

Rachel Venter van Vaalwater in Limpopo is ons gelukkige leser wat aan die stemmery deelgeneem het. Rachel wen ʼn vakansie van vyf nagte vir twee persone wat ʼn Junior Suite-kamer deel by die 5-ster Longbeach Resort in Mauritius, ter waarde van R50 000 (retoervlugte en ontbyt en aandete ingesluit met die komplimente van World Leisure Holidays).